Lieweheersbesie

Lieweheersbesie
Coccinella septempunctata
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Superfamilie:
Familie:
Coccinellidae

Latreille, 1807
Subfamilies

Chilocorinae
Coccidulinae
Coccinellinae
Epilachninae
Scymininae
Sticholotidinae
ens.

Die lieweheersbesie of liewenheersbesie (ook soms 'n skilpadbesie of skilpadkewer genoem[1]) is lid van die familie Coccinellidae. Daar is meer as 5 000 spesies van hierdie soort kewer,[2] wat dwarsoor die wêreld versprei is. Lieweheersbesies is klein insekte van tussen 1 en 10 mm lank. Hulle is gewoonlik geel, oranje of rooi met rooi kolletjies op hul vlerkdoppe en hul pote, kop en voelers is swart. Sommige spesies is egter meestal of heeltemal swart, grys of bruin en word nie maklik deur die leek as lieweheersbesies herken nie. Daar is ook ander klein kewers wat wel vir lieweheersbesies aangesien word, maar wat dit nie is nie.

Hierdie pikswart besies is weliswaar 'n lieweheersbesies,
terwyl hierdie gekleurde besie 'n onverwante kewer is.

Lieweheersbesies word as nuttige insekte beskou, siende dat hulle plantluise en ander insekte vreet wat plae in tuine, boorde, op plase en soortgelyke plekke is. In sommige plekke word hulle doelbewus losgelaat as 'n natuurlike metode van plaagbeheer.[3] Lieweheersbesies sal ook hul eiers naby plantluiskolonies lê sodat die pasgebore larwes 'n beter kans het om hul prooi te vind.

Lieweheersbesies of skilpadbesies (familie Coccinellidae) is klein, halfbolvormige kewertjies met kort pote en helderkleurige dekskilde. Die meeste larwes en volwasse kewers eet skadelike insekte en word wêreldwyd vir biologiese plaagbestryding aangewend. Volwasse kewers kan 'n paar jaar oud word en oorwinter dikwels in groot getalle in beskutte plekke. Sowat 5 000 spesies is beskryf (300 in Suid-Afrika). Lieweheersbesies (familie Coccinellidae) se benaming dateer uit die Middeleeue, toe die goggatjies aan die Maagd Maria opgedra was (Beetles of Our Lady – Ladybird beetle). Skilpadbesies, Soos hulle ook bekend staan, is 'n ou Europese volksmedisyne wat vir koliek, tandpyn en masels voorgeskryf is.

Lieweheersbesies verkies sonnige plekke en oorwinter dikwels in groot getalle in droë, beskutte plekke, byvoorbeeld in skeure, grotte of onder droë boom bas. Wanneer die swerms jaar na jaar op dieselfde plek oorwinter, word hulle soms (veral in Amerika) gevang en vir plaagbestrydingsdoeleindes aan boere verkoop.

Die meeste lieweheersbesies leef van sagte insekte soos plantluise, dopluise en witluise. In die opsig is hulle baie voordelig vir biologiese plaagbestryding en word wêreldwyd vir die doel gebruik. 'n Larwe vreet tussen 200 en 500 plantluise tydens 'n eksperiment het een spesifieke larwe 90 volwasse dopluise en 3 000 dopluislarwes gevreet.

Aangesien die kewers binne 4 tot 6 weke volgroei is, kan verskeie generasies in een seisoen vir plaagbestryding aangewend word. Van die bekendste plantluisbestryders is die spesies Hippodamia convergens en Adalia flavomaculata. Laasgenoemde help om onder meer die koringluisplaag in Suid-Afrika te beheer. Rodolia cardinalis is 'n baie bekende dopluisbestryer. Die donkerpers en swart kewer kom oorspronklik uit Australië en is teen die einde van die vorige eeu gebruik om 'n dopluisplaag in die Kaliforniese sitrusboorde te bestry.

Die metode was so geslaag dat die kewer ook na Suid-Afrika gebring is. Exochomus flavipes is nog 'n baie nuttige spesie wat 'n verskeidenheid van skadelike insekte vreet. Sommige lieweheersbesies (subfamilie Epilachninae) vreet ook plante. Die kewers is meestal oranje of swart en hulle liggame is met haartjies bedek. Hulle kom in Suid-Afrika voor en kan dikwels skade aan gewasse soos aartappels, mielies of lede van die komkommerfamilie (Cucurbitaceae) aanrig.

Die Europese Subcoccinella Viginti-quatrepunctata is skadelik vir klawer, terwyl die Mexikaanse boontjiekewer, Epilachna varivestes, skade aan onder meer bone aanrig. Nog 'n skadelike plantvreter is die kalbaskewer Epilachna borealis. Die lieweheersbesies se veelkleurige dekskilde bied aan hulle ʼn mate van beskerming, omdat dit vyande soos paddas waarsku dat die kewer sleg smaak. Die rooi en swart Cheilomenes lunata, wat dwarsoor Afrika voorkom, skei byvoorbeeld 'n geel vloeistof met 'n bitter smaak uit hulle pootgewrigte af.

  1. 'n Presiese vertaling van die Maleise kumbang kura-kura (besie/kewer + skilpad).
  2. Judy Allen & Tudor Humphries (2000). Are You A Ladybug?, Kingfisher, p. 30
  3. Matthew Power, "Top Tech City: Minneapolis, MN", PopSci.com (http://www.popsci.com/scitech/article/2005-03/top-tech-city-minneapolis-mn?page=4), accessed April 19 2008

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search